Sport Beleid

Home / Beleid / Sport Beleid

VOORSITTER: Thys Beukes
DATUM BELEID GOEDGEKEUR: 23 Julie 2015
DATUM LAASTE KEER HERSIEN: 15 Mei 2015
DATUM VOLGENDE HERSIENING: 30 June 2016

INHOUD

1.      SPORTSTRUKTUUR

2.      SPORTHOOF

3.      SPORTDEELNAME

4.      AFRIGTING

5.      OEFENINGE

6.      BEPALINGS

7.      FINANSIËLE BESTUUR

8.      BORGE

9.      BEURSE

10.    FASILITEITE

11.    BEMARKING

12.    ONDERSTEUNING

13.    TOEKENNINGS

14.    ALGEMENE VOORSKRIFTE

14.1  Kleredrag
14.2  Oefeninge – rooster
14.3  Gebruik van HNK-busse  (Vervoerbeleid aangeheg)
14.4  Gebruik van Gimnasium
14.5  Koshuisleerders
14.6  Aansoek vir toere  (Departementele vorms aangeheg)
14.7  Kleuretoekennings  (Kleurebeleid aangeheg)

15.    BEKRAGTIGING

DIE ROL VAN SPORT IN DIE SKOOL

Die professionele era in sport het ook ‘n nuwe era in skoolsport ingelyf.  Skoolsport is nie meer net ‘n addisionele aktiwiteit nie, maar een van die hoekstene van moderne onderwys, wat hand aan hand met die akademie, kultuur en algemene skooladministrasie gaan.  Sport kan nie meer net as vryetydsbesteding beskou word nie. Behalwe dat dit nóg ‘n beroepsmoontlikheid vir ons leerders inhou, kan die standaard van ons sport ‘n bepalende faktor vir die toekoms van ons skool inhou

Die waarde van sport vir ons skool word in die volgende kringloop uitgebeeld.

1.  Goeie uitslae
– kwaliteit van afrigting/ bestuur

2.  Bemarkingsinstrument
– sukses is ‘n maklike en goedkoop manier van bemarking
– media en gemeenskap

3.  Trek sterker leerders
– leierskap, akademie
– algemene dissipline in skool
– werksbevrediging vir personeel

4.  Sterker ouers
– lewer groter insette
– hoë waardes aan kinders

5.  Finansiële sekuriteit
– skoolfonds
– verbetering van fasiliteite
– meer produktief

6.  Groei
– getalle en naam
– personeelstabiliteit

Dit is duidelik dat sukses op die sportveld voordeel inhou vir almal by die skool betrokke.  Dus het elke personeellid ‘n rol om te vervul.  Hoe groot of hoe klein ookal, dit sal ‘n bydrae lewer wat tot voordeel van elke personeellid, ouer en leerder  sal strek.

Dit is daarom belangrik dat ons sport op ‘n hoë vlak bestuur word.

1.   SPORTSTRUKTUUR

Die Sporthoof staan aan die hoof van die sportburo.  Sy/Haar verpligtinge word in die pligstaat wat volg, uiteengesit.  Een van sy/haar hooftake is die koördinering van al die sportkodes en daarmee saam ook al die sportorganiseerders.  Elke sportkode staan  onder die voorsitterskap van ‘n organiseerder.  Die afrigters van die spesifieke kode maak die res van die komitee uit.  Die organiseerder van elke kode, in samewerking met die komitee, is verantwoordelik vir die daaglikse bestuur van die spesifieke sportkode.

Die Sporthoof  staan die organiseerder by met sekere administratiewe take soos finansies, aankope, begrotings, borgskappe, fasiliteite, reël van vervoer en toere.  Daar word ook addisionele portefeuljes aan die organiseerder toegeken, wat deur die Sporthoof  gekoördineer word.

Sportburovergaderings word op ‘n kwartaallikse grondslag gehou en bywoning is verpligtend vir alle organiseerders.

Skakeling met die volgende organisasies en liggame:

Beheerliggaam            :        Sporthoof
Provinsiale liggame    :        Organiseerders
USSASA                         :        Sporthoof / -verteenwoordiger
Ondersteunersklub     :        Sportburo portefeulje
Beheerpersoneel         :        Sporthoof

Stel  voltydse sportorganiseerders aan wat verantwoordelik sal wees vir die administrasie van verskillende sportkodes.  Die salaris vir so ‘n persoon sal deur die SBL vasgestel word.

2.  SPORTHOOF

TITEL:   SPORTHOOF
DEPARTEMENTSHOOF:  SPORT

Daar moet duidelik onderskei word tussen die rol van Sporthoof en dié van die organiseerder.  Die sporthoof se taak is om sport op ‘n hoë vlak te bestuur, terwyl die organiseerder se taak die daaglikse bestuur van sy spesifieke kode behels.

Die pos van die sporthoof is ‘n voltydse senior pos.  Die aangewese persoon moet deel van die  beheerliggaan uitmaak, sodat hy/sy deel kan hê aan die besluitnemings- en beleidmakingsproses van die skool.

Die aangewese persoon moet verkieslik oor die nodige onderwys- kwalifikasies en ervaring beskik, aangesien skoolsport deel van die onderwysproses vorm.  Met die nodige ervaring sal die aangewese  persoon die rol van sport in die skoolopset verstaan en daarom dus beter toegerus om skoolsport te bestuur.

Die volgende pakket is onderhandelbaar:

Basiese salaris en byvoordele:  soos vir posvlak 1, onderwyser (salaris, behuising, mediese voordele) met status van departementshoof.

Toelae:  telefoon en brandstof.

PLIGSTAAT VAN DIE SPORTHOOF

●   Koördinering  van alle sportaktiwiteite
●   Koördinering van administrasie:   Jaarverslae, Inventarisse, bepalings en oefenroosters
●   Koördinering van Finansies:  Begroting en aankope
●   Koördinering van afrigters:  Aanstellings, vergoeding, kursusse en klinieke
●   Koördinering van funksies en seremonies:  Eerstespan bekendstelling, sportdinee en afrigtersfunksie
●   Werwing en inskrywings
●   Organiseer interskole
●   Reël van toere (fondsinsameling uitgesluit)

3.  SPORTDEELNAME

3.1   VOORSKRIF

Die ideaal is dat alle leerders aan een somer- en een winteraktiwiteit deelneem.  Prestasie is belangrik, maar deelname is belangriker.  Dit is belangrik dat al ons leerders aan ‘n fisieke aktiwiteit deelneem om te ontlaai van die toenemende druk asook om meer van die belangrikheid van ‘n gesonde leefwyse bewus te raak.

3.2   VERSKEIDENHEID

Somer                              Winter                           Ander
Atletiek                             Hokkie – dogters          Perdesport
Binnenshuise hokkie     Hokkie – seuns             Hengel
Krieket     – dogers          Landloop                       Hiphop
Krieket – seuns                Rugby                             Pluimbal
Swem                                Netbal                            Skiet
Tennis                                                                       Gholf

3.3   PERSENTASIE DEELNAME

Tans is die deelname  aan sport baie laag.  Dit beteken dat ‘n groot deel van ons leerders onaktief is.  Daar moet ‘n drastiese poging aangewend word om die persentasie deelname te verhoog.

3.4   SKOOLURE

Administrasie:  Die sporthoof sal voltyds (gedurende skoolure) sport vanuit die sportkantoor bestuur.  Om te verhoed dat die organiseerders (wat onderwyspersoneel is) klastyd verloor aan administratiewe take, sal hulle deur die personeel in die sportkantoor bygestaan word.

Deelname:  Twee skooldae word aan die interne atletiek- en swembyeenkoms afgestaan.  Ander sportkodes sal slegs by uitsondering toegelaat word om skoolure vir deelname, reis, ens. te gebruik.

Indien wedstryde in Kimberley plaasvind, sal leerders/spanne nie toegelaat word om die skool voor die amptelike tyd te verlaat nie.  Afrigters moet hul beplanning hierby aanpas.

In uitsonderlike gevalle waar wedstryde direk na skool plaasvind, moet die sporthoof vooraf by die Skoolhoof goedkeuring kry om vroeër te onttrek.  Die organiseerder moet in geval van koshuisleerders, ook met die koshuis reël  ten opsigte van etes.

3.5   LEWENSORIËNTERING (PRAKTIES)

Aangesien die persentasie deelname van ons leerders so laag is, is dit belangrik dat deeglike praktiese programme in lewensoriëntering aangebied word.  Dit is vir  ongeveer die helfte van ons leerders die enigste vorm van fisieke aktiwiteit aangesien die televisie en die rekenaar die plek van ‘n meer aktiewe jeug ingeneem het.  Ons kinders speel nie meer nie, ry nie meer fiets nie, klim nie meer boom nie, ens.  Dit blyk duidelik uit die basiese bewegingsvaardighede van ons leerders.  Die prakties in lewensoriëntering is vir baie die enigste plek waar hulle hierdie vaardighede kan aanleer.

4.  AFRIGTING

4.1   STRUKTUUR BY KIES VAN SPANNE

Hoofafrigter: eerstespan
A-spanne
Ander spanne

4.2   AANSTELLING VAN AFRIGTERS

Die onderskeie komitees maak aanbevelings wat aan die skoolhoof voorgelê word, wat dan in samewerking met die sportbestuurder en personeellid verantwoordelik vir ko-kurrikulêre toekenning, afrigters aan die onderskeie spanne toeken.

Daar is nie ‘n vaste beleid t.o.v. kontinuïteit of patroon vir die aanstelling van afrigters nie.  Daar word ook nie ‘n minimum of maksimum tydperk aan die aanstelling van afrigters gekoppel nie.  Elke jaar se aanstellings word afsonderlik hanteer aangesien omstandighede van jaar tot jaar verander.

4.3  BUITE-AFRIGTERS

Waar daar ‘n behoefte is, word buite-afrigters genader.  Daar moet probeer verhoed word dat ouers by afrigting van sy/haar kind se span betrokke raak. .  Oudleerders en klubspelers kan gebruik word.  Spanne wat deur buite-afrigters afgerig word, kan deur ‘n personeellid wat as spanbestuurder optree, bygestaan word.

4.4  SPESIALIS AFRIGTING

Daar kan per geleentheid van provinsiale afrigters/spelers gebruik gemaak word om spesialis afrigting te verleen of om spesifieke fasette of vaardighede af te rig.  Ons kan egter nie aan hierdie spesialiste ‘n professionele fooi betaal nie.

4.5   AFRIGTERSKURSUSSE / -KLINIEKE

Aangesien ons skool top sportmanne / -vroue trek, is dit baie belangrik dat die afrigting van ‘n hoë kwaliteit en standaard is.  Daarom word afrigters versoek om beskikbare kursusse en klinieke by te woon om sodoende op hoogte te bly van die nuutste afrigtingsmetodes en tegnieke. Indien die provinsiale liggame nie kursusse en klinieke aanbied nie, moet dit intern hanteer word.  Kwalifikasie speel ook ‘n rol by die aanstelling van afrigters.

4.6   VERGOEDING

Buite-afrigters:  ‘n Honorarium word jaarliks vir alle buite-afrigters begroot.   Hierdie bedrag word deur die SBL vasgestel.  Enige addisionele betalings moet uit die betrokke sportkode se fonds betaal word.

5.   OEFENINGE

5.1   SKEDULE / PROGRAM

Daar is ‘n somer- en winterrooster wat jaarliks aangepas word.  Spesifieke oefendae en –tye vir spesifieke spanne word deur die betrokke sportorganiseerder  vasgelê.  Afrigters moet slegs by uitsondering hiervan afwyk, aangesien die sportrooster by die ander aktiwiteite van die skool inpas en dit ook die tydsbeplanning van ouers vergemaklik.  Leerders moet hulle mediese afsprake en ander afsprake by hierdie tye aanpas.

5.2   SPORT OP SONDAE

Geen sport sal op Sondae plaasvind nie en sportorganiseerders moet dit vooraf in hul beplanning in aanmerking neem.  Indien dit onmoontlik is, en op geen ander dag kan plaasvind nie, moet die SBL toestemming verleen.

5.3   PROVINSIALE DATUMS

Rugby:        1 Junie tot aan die einde van die Junie-vakansie
Netbal:        1 Junie tot aan die einde van die Junie-vakansie
Hokkie:    1 Junie tot aan die einde van die Junie-vakansie
Krieket:    1 November tot wanneer die skole begin vir die eerste kwartaal

Die doel van bogenoemde is om seker te maak dat die skool voorkeur geniet deur die gebruik van sy sportmanne- en vroue binne die huishoudelike seisoen.

Leerders sal wel vrygestel word om Suid-Afrika te verteenwoordig indien dit binne die sogenaamde huishoudelike seisoen val.

5.4   AANTAL OEFENSESSIES / TYDSDUUR

Die volgende minimum vereiste word verwag:

Eerstespanne            :    3 x 90 min per week
A-spanne            :    3 x 60 – 90 min per week
Ander spanne            :    2 x 60 – 90 min per week

Die sportorganiseerders stel oefentye vas en geen oefening of wedstryd mag sonder die toestemming van die betrokke organiseerder gekanselleer word nie.

5.5   ALGEMEEN

Kleredrag:   Die voorskrif vir elke kode moet streng nagevolg word.  Die korrekte kleredrag skep ‘n goeie beeld asook ‘n positiewe omgewing vir die afrigter en spelers.

Dissipline:   Algemene skoolreëls geld.  Spesiale aandag moet aan stiptelikheid en dissipline geskenk word.  Die afrigter moet ‘n ferm hand oor sy spelers hou.  Geen vorm van inlywing/ontgroening word in enige sportkode toegelaat nie.

Getalle:   Oefeninge  is verpligtend vir alle geregistreerde spelers.  Daar moet streng opgetree word teen spelers wat van oefeninge wegbly.  Indien ‘n speler nie opdaag vir wedstryde nie, moet dit by die sporthoof aangemeld word.   Die afrigter mag sodanige speler tydens die volgende wedstryd uit die span weglaat.

6.  BEPALINGS

6.1   LIGA

Bepalings soos vasgestel deur provinsiale liggaam.

6.2   INTERSKOLE

●   Jaarlikse volskaalse interskole met ander skole
●   vind in derde kwartaal plaas
●   rugby, hokkie, netbal, tennis en skiet
●   gholf kan nuwe byvoeging wees
●   treinrit

6.3   TOERE

Toere lewer ‘n groot bydrae tot die ontwikkeling en blootstelling van ons spelers.  Toere dra ook die beeld van ons skool  buite ons provinsie uit.  Dit word verwag dat al ons eerstespanne ten minste een toer per jaar onderneem.  A-spanne word ook aangemoedig om een toer per jaar te onderneem.  Ander spanne mag nie op hul eie toer nie, maar mag eerstespanne of A-spantoere vergesel.

Toere word afsonderlik deur eie fondse en spelers-bydrae gefinansier.  ‘n Personeel- toelaag soos bepaal deur die SBL word by toerkoste ingesluit.

Aansoek vir enige toer moet deur die organiseerder op die voorgeskrewe vorm by die skoolhoof gedoen word.

6.4   OORSESE TOERE

Enige oorsese toer moet eers aan die SBL voorgelê word.   Hierdie voorlegging moet bestaan uit ‘n begroting en ‘n toerplan.

7.  FINANSIËLE BESTUUR

7.1   BEGROTING

Elke organiseerder stel ‘n begroting op wat aan die sportbestuurder voorgelê en verwerk word.  Die sportbestuurder lȇ ‘n globale sportbegroting aan die finansiële komitee voor.

7.2   FONDSINSAMELING

Sportkodes het ‘n rekening waarin eie fondse, wat deur die sportkode self ingesamel word.  ‘n Aanvraag teen sodanige  fonds moet deur die Voorsitter van die finansiële komitee en die  Skoolhoof goedgekeur en  deur die finansiële komitee bekragtig  word.  Bewysstukke moet
ook ingedien word.

7.3   LEERDERBYDRAES

Leerders betaal vervoerkoste ten opsigte van alle wedstryde soos versoek volgens die Finansiële beleid.

7.4   ADMINISTRASIE

Boekhouding word deur die finansiële sekretaresse hanteer.  ‘n Bestelvorm moet vir alle aankope voltooi word.  Die skoolhoof verleen toestemming deur die bestelvorm te teken.  Uitbetalings word deur die finansiële sekretaresse hanteer.  Bewyse moet vir alle aankope gelewer word.  Rekeninge moet deur die organiseerder geteken  en gespesifiseer word.  Aankope of inbetalings moet slegs deur die onderskeie organiseerders hanteer word.

8.   BORGE

Sportorganiseerders, in oorleg met die sporthoof,  is self verantwoordelik vir die identifisering en werwing van ‘n borg vir sy sportkode.  Fondse hierdeur gegenereer, kan aangewend word vir die vergoeding van afrigters, toere, beurse, toerusting en opgradering van fasiliteite en administrasie.  Bewysstukke moet by finansiële kantoor ingedien word.

Borgskappe is onderhewig aan voorgeskrewe sportdrag, toerusting, skoolkleure (groen, wit en geel) en die algemene skoolreëls.  Hierdie sportdrag moet in HNK se klerewinkel aangekoop word, en die borg se logo mag daarop aangebring word.

Daar is ‘n verbod op borgskappe deur tabak- en drankmaatskappye.

Eerstespanne geniet voorkeur t.o.v. borgskappe.

Geen spanborgskap mag ‘n bedrag van ‘n eerstespanborg oorskry nie.

Daar moet gewaak word teen botsende belange (ten opsigte van  borgskappe) en daarom is dit belangrik  dat daar in oorleg met die sporthoof opgetree word .

9.   BEURSE

Verwys na bemarkingsbeleid (aangeheg)

10.  FASILITEITE

10.1  GERIEWE

3 rugbyvelde                4 netbalbane met spreiligte
1 hokkieveld                swembad
3 krieketvelde                6 tennisbane (2 met spreiligte)
binnenshuise sportsaal

10.2  FINANSIERING

Jaarlikse terreine-begroting wat bestaan uit instandhouding, opgradering en projekte. (Terreinbestuurder)

10.3  ADMINISTRASIE

Word deur personeelverteenwoordiger op terreinekomitee hanteer, wat terugvoering op kwartaallikse sportburovergaderings gee.  Die sportbestuurder maak ook deel van die terreinekomitee uit.

10.4  INSTANDHOUDING

Word deur die opsigter en arbeiders hanteer.  Die ideaal is dat twee arbeiders voltyds op die terrein werk onder die toesig van ‘n terreinbestuurder.

10.5  TOERUSTING

Die organiseerder van elke kode is verantwoordelik vir die deeglike kontrole van toerusting deur die jaarlikse inventarisse wat deur die sporthoof gekontroleer word.

11.   BEMARKING

(Bemarkingsbeleid aangeheg)

11.1  BYEENKOMSTE / WEDSTRYDE

Inisiatief van betrokke sportkode om o/13-wedstryde by te woon en spelers te identifiseer.
Poog om laerskoolleerders by ons sportdae te betrek.

11.2  MEDIA

Elke sportorganiseerder moet toesien dat uitsonderlike prestasies en uitslae na sporthoof
deurgegee word sodat dit in die media geplaas kan word.

11.3  ANDER

Sportbrosjure
Sportvideo
Prestasiepamflet

12.  ONDERSTEUNING

12.1  PERSENTASIE BYWONING

Leerders moet aangemoedig word om ons sportbyeenkomste (veral waar ons 1ste spanne betrokke is) by te woon.  Die sportorganiseerder moet toesien dat alle leerders en personeel weet waar en wanneer wedstryde plaasvind.

12.2  KLEREDRAG

Volledige sweetpak of volle skooldrag vir spesiale geleenthede (leerders sal vooraf in kennis gestel word).

12.3  GEESBOU

Personeel verantwoordelik vir geesbou word deur die personeellid verantwoordelik vir ko-kurrikulêre toekenning in samewerking met die sporthoof aangewys.
Geesbou periodes word deur Adjunkhoof (Akademie) bepaal – Sportorganiseerders moet dit vooraf met hom/haar reël.
Skep gevoel van trots, eenheid en gee erkenning aan ons spelers.

13.  TOEKENNINGS

13.1  JAARLIKSE PRYSUITDELING

Sportdinee
2 Kleure-seremonies
Informele byeenkomste

13.2  EREKLEURE

Kleurebeleid aangeheg

13.3  SAALBYEENKOMSTE

Uitslae
Prestasies
Provinsiale spanne
Aankondiging van wedstryde/byeenkomste

14.  SPORTDRAG

Voorskrifte ten opsigte van Sportdrag aangeheg

15.  GEBRUIK VAN HNK-BUSSE  (verwys ook na busbeleid)

15.1   Busse moet vroegtydig bespreek word.

15.2   ‘n Naamlys van alle leerders wat op bus sal wees, moet voor vertrek aan persoon in beheer van busse voorsien word voor vertrekdatum.

15.3   ROOK OP BUSSE IS VERBODE (dit sluit busbestuurder en personeel in).

15.4   Personeel op bus moet sorg dat bus in netjiese en skoon toestand agtergelaat word. Die persoon in beheer (personeellid) moet toesien dat die bus weer vol brandstof is.

16.   GEBRUIK VAN GIMNASIUM

Die gimnasium word met die goedkeuring van die Skoolhoof beskikbaar gestel vir skoolverwante funksies en moet vooraf by die verantwoordelike persoon bespreek word.

Omdat die gimnasium ‘n opvoedingslokaal is wat op daaglikse basis gebruik word, is dit nodig dat sekere riglyne neergelê word.  Hierdie riglyne moet stiptelik deur die verantwoordelike sportorganiseerders nagekom word.

ALGEMENE RIGLYNE:

16.1   As daar van die gimnasium gepraat word, word daar na die portaaljie en die gimnasium verwys.

16.2   Daar moet vroegtydig met die verantwoordelike persoon reëlings getref word m.b.t. die beskikbaarheid  en skoonmaak van die gimnasium.

16.3   Dit is die sportorganiseerder se verantwoordelikheid om toe te sien dat die lokaal in dieselfde toestand gelaat word as toe hy/sy dit ontvang het.

16.4   Die sportorganiseerder sal verantwoordelik gehou word vir enige skade – maak dus seker dat daar geen gebreke is voordat u die gimnasium in ontvangs neem.

16.5   Die skietstoor agter in die gimnasium is buite perke vir enige persoon  (behalwe die skietorganiseerder).

16.6   Daar sal ‘n dagboek by die persoon verantwoordelik vir die gimnasium gehou word.  Dienaam van die organisasie en sportorganiseerder, wat die gimnasium gebruik, teenoordie ooreenstemmende datum van gebruik aangeteken moet word.  Vaste datums soos prysuitdelings ens. sal op die jaarprogram aangeteken word om botsings so ver moontlik te vermy.

17.   KOSHUISLEERDERS

Sportorganiseerders is verantwoordelik vir die volgende reëlings ten opsigte van koshuisgangers en nie dienspersoneel nie

17.1   Vervoerreëlings vir oefeninge/wedstryde

17.2   Ete-reëlings

Indien leerders etes a.g.v. oefeninge/wedstryde mis, moet reëlings met die koshuismatrone getref word.  Wanneer koshuisleerders op toere gaan moet kospakkies gereël word.

17.3   Studietye

Koshuisgangers sal slegs met toestemming van die Superintendent toegelaat word om in studietye aan sportaktiwiteite deel te neem.

17.4   Beserings

Afrigters/Spanbestuurders moet koshuisleerders by die hospitaal besorg en die ouers en dienspersoneel in kennis stel.

Related Posts